Skoon afrikanerhuise

[die vreemde vredes van wit-bedien en lewens herverbeel]

Met sagte stemme vertel werkerMammas hulle lang stories
van die steyns die schoemans en die cronjes se huise
die momente van oorskietkos in ou eetgerei
en hoe miesiese hulle besems gegee het en lappe en bediendeklere
om hulle plek te ken

Met skrefiesoë vertel die Mammas
hoe vuil afrikanerhuise kan wees
en hoe mooi die kinders kon uitdraai
uit die skoongemaakte plekke

Met pruil monde vertel die Mammas
dat hulle hier en daar tog iets geleer het
van vuil en skoon
en van afrikaners en van ‘n hele loopbaan as bediende

Met verlangende oë wonder Mammas hoe dit kon wees
om ‘n gelyke lewe te kon gehad het
as beroepsmense met hulle eie werkers

Met plooigesigte vertel twee of drie geslagte
van kromrug Mammas van 80
hoe hulle net die bediendelewe geken het en arm gebly het –
hulle hartseerstories
van trots op hulle eie kinders se uitstyg

Met wonder dink mens hoe Mammas hulle eie lewens kan herverbeel,
en hoeveel afrikanerfamilies se vloere-was en kinders-grootmaak dit vat
vir een Swart Ma om trots terug te kan dink
aan hoe sy haar eie kinders groot gemaak het?

Advertisements

Oogplooie

Soos ek dit verstaan is dit ‘n vaardigheid waarmee mens gebore word:
jy kyk na my met my oogplooie en ek na joune
jy probeer die storie bedink van my plooie
elke vlaklyn elke dieplyn, elke hoekie en buiging
en ek wonder waarna jou kyk nou eintlik kyk

of dalk het ek dit verkeerd, dat ek en jy hierdie kyk leer kyk
deur eers ons eie oogplooie te bestudeer
in al die spieëls wat ons kan kry
om te besluit wat ons weet
van ons eie oogprent se lyne hoeke en dieptes

Miskien kan iemand my nog reghelp
dat stories van oogplooie tussen twee mense
afhang van hulle privaatbesluite
en niks meer as spieëlwaarhede in die oomblik
ontplooi nie

Spore in die toepswêreld

Dis gelukkig dat die tabletskerm vingermerke wys wanneer jy dit afsit
anders sal niemand jou ooit glo hoe jy verdwaal het tussen die toeps
en hoe jy gehuiwer het
tussen die wêreld se ‘favourites’, ‘editors choices’, en ‘staff recommendations’ nie –
enigeen van die eenduisend twee honderd vyf-en-dertig toeps oor skryf byvoorbeeld,
vir wanneer jy jou nuuskierigheid oor wat nuut is nie kan bedwing nie
of wanneer ‘moment diary’ of ‘evernote’ of ‘docs to go’ onvoldoende is

jy is verby die tyd dat prente, lettertipes, fontgroottes, kleur of beweging jou beïnvloed
want jy weet jy kan enigeen kies en op jou ‘cloud’ bêre
so word dit al hoe minder belangrik dat jy rekords hou van jou rondloperhande
wat tussen tik en toeps jou skryfwêreld opmaak
tensy mense oor jou skouer loer en nie mooi volg
hoe jy skryf van die eerste oomblik tot die herskryf, mooi maak
en laat gaan op jou blog nie

dan kan jy spore maak:
saggies druk druk, streep streep, swaai swaai,
af af en af, die hele skerm af, tot onder –
jou hele voetspoor
wat met een skoonvee van die skerm
spoorloos kan verdwyn

Besigheid in die dorp

Die man en vrou betree die mall se gange

met die vasberadenheid wat verbruikers van alles wat gedverteer word, betaam

soos elke keer soek hulle rooi kersgeskenke

van die soort waarvan elke tv en koerant en pamflet en eposadvertensie vol is

(en is dit nie heerlik om met koppe vol van hierdie opsies rond te loop en te sien watter goed na jou toe spring nie?

 

gedagtig aan die beloning van goed besit

loop hy effens voor met sy hand op die beursiesak vol nuwe mandelanote,

vars vir sy middelklasgebruik

 

sy loop fronsgesig met ‘n trollie agterna

en dink aan die smake van haar kooplus

wat sy so graag dringend wil bevredig

 

saam volg hulle die diep voetspore

van kitsbank na kasregister na papierstrokies na melkskommels

en terug met asemsnakke motor toe

 

die twee word onopsigtelik beloer deur die verkopers

met mondhoeke wat weet hoe maklik mense weggee wat hulle nie het nie

 

dis nie lank nie of verkopers kyk tevrede na die twee

waar hulle sit met sakke vol goed weggesteek onder die melkskommeltafel

gesigte geblom, oë gestrak

voete tevrede

en beursies plat

Figuurstudent

Hoe sal ek nou hierdie gesig voorstel

het die kunstenaar gedink toe hy aan tafel die vrou oorkant hom sien

 

hy weet hy is die een wie se werk dit is, soos Billy Collins sou gesê het

om aan mense momente soos hierdie voor te stel

as herinnering dat die lewe verbygaan

 

hy begin sy studie van die gesig

met woorde : aangenaam, regtig, ja, wel, bly te kenne

hy doen dit terwyl hy weet sy oomblik van studie duur enkele sekondes

waarna hy dan sal moet probeer onthou

wat in sy moment van kyk was

soos dit ‘n figuurstudent betaam

 

sy studie wil hy in ‘n woordprent sit

met die woorde: lipkrulle, haardos, frons, rooi, en traan

maar hy wonder, as figuurstudent, wat was alles in daardie oomblik

waarvan hy die wereld kan vertel:

‘die gesig in smart’, of ‘halfhartig vriendelik’ of wat?

 

terwyl hy skrywe bring die woordkwas vir hom en die wêreld die moment mee

van die gesig wat rooi is van lipkrul-vreugde

by haar man se begrafnis

Om jou reis te skryf

Om jou reis te skryf

[na aanleiding van Billy Collins se Forgetfulness]

 

Dis die plekke waar die fotos geneem is wat jy eerste vergeet

jy sien jouself voor ‘n kanaal en wil vir almal vertel hoe mooi dit was in Amsterdam

of was dit nou in Utrecht?

Te oordeel aan die bote in die agtergrond, kon dit netsowel Venesië gewees het

of Birmingham of New Orleans waar jy ook voor kanale afgeneem was

maar vir nou kan jy nie eers onthou in watter album die fotos is nie

 

Dieselfde gebeur met die geregte in eetplekke

jy kon sweer die pizza het jy in Napels geëet

die eerste plek in die werld waar pizzas gemaak was

of was dit in die studente-eetplek in Amherst?

 

Terwyl jy gefrustreerd raak oor jou moeite om kanale en eetplekke te onthou

is dit skielik dorpe se name, en die lande waarin jy hulle besoek het

wat nie meer so herkenbaar vir jou is nie

 

Jy begin bekommerd raak wat jy alles van jou reise gaan vergeet

en dat jy die punt gaan bereik wanneer jy die hele lys lande vergeet

vir jou reisblog aan die wêreld

 

Maar dan weet jy die hele idee van ‘n reisblog by nabaat

is in elk geval ‘n verbeelde een:

jy skryf al jou reise oor

soos jy dit opnuut sou wou doen