O die pynliggaam

Dit was Totius wat sy pyngedagte in teer woorde 
op skrif gevries het
vir mense om te kan meeleef
hoe die brandpyl van dood jou eensaam maak 
in pyn

Miskien was dit vrees vir hierdie soort eensaamheid 
wat jou behep maak 
met die uitvindsel van jou pynliggaam
die liggaam in jou 
wat agter aandag aan
die een pyn na die ander bedink

‘og, nee, kyk hoe word ek al weer benadeel’
sal jou pynliggaam byvoorbeeld skree
om aandag te trek

‘laat ek jou nog vertel van mense wat my siek maak’
sal jou pynliggaam aangaan as jy nie keer nie
‘miskien moet ek gaan lê en aandag en medisyne kry’
is gewoonlik die beste oplossing 
waarmee jou pynliggaam rus kan vind

o pynliggaam
as jy maar net erns kon maak met Totius
dan sou jy kon leer
hoe eerlik pyn is
en dat die aandag wat jy soek met jou pyn 
ego-aandag is 
en niks meer nie

GERT VDW
==

O Die pyn-gedagte: My kind is dood! . . .
dit brand soos ‘n pyl in my.
Die mense sien daar niks nie van,
en die Here alleen die weet wat ek ly.

Die dae kom en die nagte gaan
die skadu’s word lank en weer kort;
die drywerstem van my werk weerklink,
en ek gaan op my kruisweg voort.

Maar daar skiet aldeur ‘n pyn in my hart,
so, dat my lewe se glans verdwyn;
Jou kind is dood met ‘n vreeslike dood!
En – ek gryp my bors van die pyn.

O Die bliksemgedagte! . . . Ja, lieflingskind,
een straal het jou skone liggaam verskroei,
maar bliksemstrale sonder tal
laat my binneste brand en bloei.

Sy was so teer soos ‘n vlindertjie,
sy’t lugtig omheen geswerf;
‘n asempie wind kon haar vlerkies breek
en – kyk watter dood moes sy sterf!

Hoe weinig die kinders wat so moet sterf,
dis een uit die tienduisend-tal,
en ag, dat dit sy was, en ek moes sien
dat sy dood in my arms val!

O Die pyn-gedagte: My kind is dood! . . .
dit brand soos ‘n pyl in my;
die mense die sien daar niks nie van,
en die Here alleen die weet wat ek ly.

TOTIUS

Advertisements

Stillewe

dis wanneer jy stip deur jou glasvenster kyk
na die groen van ‘n druiweblaar
met warm son om
dat jy die stilte sien, effens uit fokus
tussen al die gedagtes in jou kop deur
selfs as jy nader staan
kan jy jouself die roerlose vrede voorstel
van die hangende blaar aan die druiwerank
stil soos in ‘n stilleweprent,
of ‘n outydse film wat gevries is
die gevriesde film van die blaar is klankloos, windstil
en jy weet jy kan dit ongekend bekyk
opnuut betree,
selfs nalewe
want jy is eintlik een daarmee
een in wese
hierdie is nie jou besef nie
hierdie teenwoordigheid ontwyk jou
arme skepsel,
meegesleur in jou koplewe van gedagtes
stories oor wat jy wil doen, wil hê, moet kry
stories oor hoe kwaad jy is dat ander jou benadeel
egostories wat maal en raas en kom en gaan
miskien moet jy jouself sover kry
om aan die blaar te raak
en in ‘n deelsekonde jou gedagtelewe se film
van wie jy dink jy is
te stop
en vir so lank as jy kan
aan jou eie natuur
in stilte te raak