die man sit

die man sit

styf teen die vrou
weet hy sy is die een
wat pas haar lippe rooi gemaak het en afwagtend tuit

die man streel
die oppervlak van haar een arm
met sy oge blink
agter sy hande aan

die man tas
met sy rimpelhande op haar elmboge
om die verleentheid van sy mistastings
te verdoesel

die man steek
sy geheim weg
dat hy eintlik tekens soek
dat dat sy eie lewe voortloop
ongeag hierdie verblyf
van sy hande en oge op haar
rooi kolle
wat presies soos syne lyk

fotoreeks

FOTOREEKS
[‘n kunsplan]

mensspore sak in modder
voet druk af in sagte plaasgrond
trekkerwiele ry grond tot stof
stoelpote hou vas aan die vloer
boomstamme groei uit die grond
stam sak in dieptes is
mensvoete suig plat op die aarde
fondasies is reeds die grond in
skagte sak af ondertoe
blare verrot grond-af
slang-seilmerke op die sand waai weg
sand filter in droge grondkrake in
hondevoete oorheers skoon grond
tafelstaalpote word permanent deur klip gekeer
tentpale boor die gras deur
graswortels beskerm die grond
doring-penwortels wil al dieper
hoogste boom is skaam oor hulle diepste wortels
mensespore penetreer diep al agter jules verne aan
in die middel van die aarde
grotmonde sluk mense grondaf

wat maak die voete van die voete op die aarde?

ek is nie op die foto nie

fotoskote neem mense
op
die een na die ander
geneem deur die skieters op mure
wat met hulle oogstukke
strate fynkam
en mense op papier
vas wil suig

skoot op skoot
word mense afgeklik
deur die snellers
die vloede van gladde meganismes wat stroomaf lewensboeie uitgooi
en so die rooi van al die duisend-mensskakerings
al mooi
in die donker
onsigbaar maak