en toe kom die pienk terug

die stomp yster wat eers net gele het
en deur mensehande opgelig is

knars toe die wit vinger morsaf

met lote van are en bloed 

hang die nael af

en reik terug na die hand

waar hy hoort

nael en al van die vinger is al swart van afskeid

toe die dokter se fyn naald en garing die bloed keer

en pienk van lewe terugbring

in die vinger van een mens

en die harte van so baie ander

 

die man sit 

die man sit

styf teen die een wat pas haar lippe rooi gemaak 

met sy eie afwagtende mond

die man streel 

die oppervlak van haar een arm

met sy oë blink 

agter sy hande aan

die man tas

met sy rimpelhande op haar elmboë 

om die verleentheid van sy mistastings

te verdoesel

die man steek

sy geheim weg

dat hy eintlik tekens soek

dat dat sy eie lewe voortloop 

ongeag hierdie verblyf 

van sy hande en oë op haar

rooi kolle

wat presies soos syne lyk

Kersfees is hier

kersfees is hier

kersfees is hier
die fees is hier
die geboorte van jesusfees
die goeienuus fees
die fees vir almal om te vier

voel julle
hoe vol is die dag van die son
voel julle
die warmtes van lewe op julle lywe
voel julle
die warmtes van lewe uit julle harte

kersfees is hier

kyk mooi wanneer julle buite loop
sien hoe die struike langs die straat hulle skuins hou
in die kerstyd
sien hoe die blink blare ekstra glinster
en hoe sterk die bome staan
asof alles deel is van een groot die kerfsfeesboom

kersfees is hier

mense hou hande
die see hou hande
die muizenberg hou hande
vir almal wat hulle palms oop het
vir nou
vir die dag lank
vir die jaar lank
vir die lewe lank

kersfees is hier

die roosmens

Die roos
Die roos staan in die water
Die roos staan in die water haar stingel duidelik drinkend uit die blompot

Dis jy wat die plant gemaak het om verder te lewe
Kyk jy mooi, sien jy die borreltjies op die stingel
die rafels van die stingelvel
Sien jy die mooi
Kan jy dit nadoen in die water wat vir jou gegee is
Jou lewensvoete vind
uitreik met jou lewenswortels soos monde wat na asem smag

Kan jy die roos nadoen mens
Kan jy die roos nadoen mens
Kan jy jou kleur mooi hou soos die roos
Kan jy jou toevou ooplaat
Kan jy jou hande gebruik en uitreik
En soos die roos jou lewe voortsit?

Visvang in sandton

ek het nog nooit visgevang in sandton nie

besef ek toe ek met die stroom mense

uit die fontein van die treinstasie

die sonlig instap

 

sekerlik moet daar ‘n rivier wees

of voorheen gewees het

een met groen en stroompies oor klippe en vissies en alles wat jy jou kan verbeel

om jou besige lewe langs die water stop te sit

lyn in die hand

blink vislywe wat spring om te sien wat jy doen

sonder ‘n afstandbeheer of sleutelbord

 

ek vra een van die stokfiguur-treinryers op die roltrap

die een wat lyk soos ‘n oudste wat dalk hier groot geword het

voor die tyd van toringgeboue:

is hier ‘n rivier in sandton?

sy frons maak diep plooie op sy gesig

wat nogal mooi pas by sy strepiespak

jy kan kom kyk na die waterfeature in ons toringgebou, sê hy

dit het riete en visse, en maak sulke meanderdraaie

volgens die letters van ons maatskappy

 

waar sal ek vandag my lyn ingooi hier in sandton

wonder ek toe ek stroom-af loop op die teer rivier

en sien hoe haastig baie mense loop

na hulle vergete viswaters

Janneman en sy ma

ek sien die portrette van mense
om tafels in die eetplek
en weet onmiddellik dit is die fotoherinneringe wat in museums
oor vyftig jaar gaan hang:
jannemanne met kort kuifiehare, skaam posture met sy eie bietjies plooie
wat stip kyk na sy klein grys ma’tjie oorkant hom
hy leun oor na haar gevoude arms
kyk na haartjies reg bedeesd
ringe blink gevryf
handsakkie swart gebult
terwyl hy ken op die hand
sy swartraam bril reg druk
en sy hart begin uitpraat
die woorde sal die museumgangers hulleself maar moet verbeel
maar ten minste
sien almal die boetiejan en sy ma
stillewe in een raam
hoe hulle dringende liggame, lippe en gebare toe al gewys het
hoe mans hulle vrouens onderdanig is

vrugte pluk

Jy wil jou opnuut verbeel hoe dit is

om as vrugteplukker in ‘n boord die een vrug na die ander te kan uitsoek
jy kan Degenaar navolg
die man wat altyd die heel hoogste vrugte
van woorde in boeke na aan die hemel
gepluk het
gehou het
bekyk het
ontgin het
en die laaghangendes van mills en boon altyd laat  verbygaan
ek kan my die oomblik verbeel in die spierwit boord
sorg so vir jou bedleende liggaam
met vrugte van woorde
bekyk, eksamineer
hoe jou arms swak word en  bene flou
sien wat jy nog kan leer
in hierdie volgende ontginning van jou lewe

garbage gemors

garbage gemors

daar die kere dat jy weet jou huis is netjies en skoon
die vertrekke is sonder kreukels en gepak
soos presies-toegedraaide vierkantige boksies
wat kraaknuut lyk asof op ‘n winkelrak
wat jy dan nie aan wil dink nie
is die asblikke wat uit elke vertrek uitgedra is
en die emmers met kombuisafval en papiere en stof
alles opgegaar vir jou boksielewe
jy meen jy kan daarsonder klaarkom – die wete dat jou skoonmakermens presies weet
hoe jy sukkel om jou boksielewe sonder afval te leef
Gelukkig is sy die een wat oorskot en uitskot raakvat en uitwerp
op jou sypaadjie vir almal om te sien,
aangebied aan haar townshipgenote
wat grou in jou garbage gemors
voordat alles netjies presies volledig in die aslorrie na jou buitelewe weggeneem word

lewe warm vir die oomblik

droom jou droom as ‘n droom
en sien jou hart sweef
na eilande
opgemaak deur reuse hande met palms na bo
dromend verbeel jy die een eiland na die ander
waar jy omvou word
en uitegstrek lê
met hande vol vrede agter jou kop
dolksteek tref ‘n koue doodstyding
jou droom
dwarsdeur die warm hande
om soos ‘n swart stok in jou eiland van vashouhande
vas gevries te word
al wat jy kan doen
is om jou droom op te hou droom as ‘n droom
en te wonder hoe dit is dat hande wat jy gedink het die bakkies is van jou geluk
so skielik kan verwater