die man sit 

die man sit

styf teen die een wat pas haar lippe rooi gemaak 

met sy eie afwagtende mond

die man streel 

die oppervlak van haar een arm

met sy oë blink 

agter sy hande aan

die man tas

met sy rimpelhande op haar elmboë 

om die verleentheid van sy mistastings

te verdoesel

die man steek

sy geheim weg

dat hy eintlik tekens soek

dat dat sy eie lewe voortloop 

ongeag hierdie verblyf 

van sy hande en oë op haar

rooi kolle

wat presies soos syne lyk

Advertisements

vrugte pluk

Jy wil jou opnuut verbeel hoe dit is

om as vrugteplukker in ‘n boord die een vrug na die ander te kan uitsoek
jy kan Degenaar navolg
die man wat altyd die heel hoogste vrugte
van woorde in boeke na aan die hemel
gepluk het
gehou het
bekyk het
ontgin het
en die laaghangendes van mills en boon altyd laat  verbygaan
ek kan my die oomblik verbeel in die spierwit boord
sorg so vir jou bedleende liggaam
met vrugte van woorde
bekyk, eksamineer
hoe jou arms swak word en  bene flou
sien wat jy nog kan leer
in hierdie volgende ontginning van jou lewe

lewe warm vir die oomblik

droom jou droom as ‘n droom
en sien jou hart sweef
na eilande
opgemaak deur reuse hande met palms na bo
dromend verbeel jy die een eiland na die ander
waar jy omvou word
en uitegstrek lê
met hande vol vrede agter jou kop
dolksteek tref ‘n koue doodstyding
jou droom
dwarsdeur die warm hande
om soos ‘n swart stok in jou eiland van vashouhande
vas gevries te word
al wat jy kan doen
is om jou droom op te hou droom as ‘n droom
en te wonder hoe dit is dat hande wat jy gedink het die bakkies is van jou geluk
so skielik kan verwater

buite is dit anders

vroegoggend is die donker nie so stik
soos die middernag donkermaan nie

jy voel nie blind en bang vir die onbekende nie
nee, jy kyk uit jou kamer na die ooste se eerste lig
en begin wonder hoe die winterson gaan wees
jou kamerdonkerte is nie soos die ander donkertes wat jy ken nie
soos die kelderdonkerte wat tegelyk spokerig kan wees en storms kan uithou
of die restaurantdonkerte wat ander mense wegsteek, maar darem ‘n kers vir jou warmte
– of die donkerte in mense se borde waarna niemand ooit kyk nie
beter kan jy dit seker nie kry nie
as die bekende donkerte van jou tuin
toegevou deur groot bome en struike
in skakerings van donkergroenswart
dig teen mekaar
met al die donkertes in jou elke dag se lewe
wil jy vrede maak, sonder om te kies
alhoewel die oggenddonkerte
aan die oostekant die beste belofte het
van die ongesiene son
buite is dit altyd anders
van ligswart, ligblou, lig oranje, liggeel
tot die warmgeel van jou hele dag

om op te hou tik

Die vingers op die sleutelbord gaan  al viniger
gesout agter die kop aan
vol van gedagtes
wat soos wolke in ‘n wwind aangejaag word
die vingers spring rond, spacebar elke paar letters,
backspace hier en daar,
en gaan vasberade, doelgerig, op drie rye wit letters
aan en aan en aan
die vingers is aangesê om die geel bladsye te vul
nou nie geel soos in oudgeel nie, maar soos in goudgeel,
die kleur van die E-papier wat gewoon die oog van die tikker intrek en troos:
hierop kan jy mooi bladsye laat uitkom;
sleutels vol van jou gedagtes
die tikker laat sy vingers loop, stop elke paar sekondes om te save
want o weë, die gedagtewolke waai sterk,
word deur warrelwinde aangejaag
en jy wil niks verloor nie
dis die vingers wat die aksie moet vries
die vingers, die punte waardeur gedagtes op papier uitloop
die vingers wat die vrede wil voel van klaar wees:
klaar getik; gedagtes leeg geloop
na die aksie laat die tikker sy skouers sak
sy vingers rus,
sy aandag wegskuif van die abstraksies in sy kop
gevries in swart krulletjiesfont
en wat nou voortlewe op ‘n geel skerm
die tikker sit met dankbaarheid –
hy het sy kop ontsnap
deur sy vingers, sy hande sy arms en sy liggaam:
sy lewe is nou in sy hande,
hy voel sy hartklop daar
die tinteling van vingers wat hom verlos het
om kopvry vrede te vind
waar hy daar sit

stilheid van die mall

jy is dalk die eerste persoon
wat jou wil verlustig aan die stilheid van die mall
die stilte agter die tafelgepratery, die stoelgefluistery, en die wyngelaggery
of was daar dalk alleenmense voor jou
soos die man wat daar sit en na sy tee staar
of die vrou in haar spieeltjie
of die seun wat in ongeloof in sy selfoon wegraak
 – almal wat dalk al ‘n uur of so voor jou
stilheid in die mall kom soek het
miskien was dit daarom dat iemand soos Eckhart Tolle
homself so in stilheid verlustig het, dat hy boeke daaroor geskryf het
hy is die een wat youtube vol van sy woorde en gebare versprei
oor die nuwe aarde van stilheid
hy is seker ook die een wat sy stilheid voor jou in duitse malls ontdek het,
nie dat jy enigsins soontoe wil gaan nie
wie ook al eerste was, jy is die volgende een
wat die vrede van stilheid ten minste opsoek
in ‘n mall vol koffieplekke met tafels vir ee
“Meneer wat wil jy bestel?” is die eerste vraag van die kelner
 ek is hier vir die stilheid van die mall,
maar ek sien julle spyskaart het dit nie?
dit hang af meneer – soek jy stilte of stilheid?
ons het die stilte van stilsit en staar
maar ongelukkig nie die stilheid nie
 – stilheid moet jy self vind
sê die bediener met ‘n skor stem
die stilheid van jou eie teenwoordigheid
die stilheid tussen woorde,
tussen jou in- en uitasems
die stilheid wat jy ook in jou liggaam vind
sonder denke, sonder naam
sonder gedagteverslawing
sit maar hier en vier die stilheid van jou gees
doen dit gedagtevry
voel die nou-wees, die hier, die nou
van jou ek-is
dis gratis