Billy Collins oor gedigte en digwerk

Opgesom deur Gert van Eldoraigne
uit itunesU aanbiedings
Digkuns is egotisites – die digter bied sy siening/belewing/waarnemings aan
van wat in oomblikke gebeur – hoe sy dit sien
ELKE GEDIG IS ‘N PRENT, ‘N VOLBESKREWE MOMENT
Digters praat met mense – doen iets vir mense – dis nie net ‘n spin in eie ruimte of ‘n taaldemonstrasie nie –
Digkuns wil subjektiwiteit aktiveer – ‘italisizing experience through focussing’ – sodat mense effens verander voel
Digkuns herinner mense die lewe gaan verby – dood as mooiheid, skoonheid – verhoogde bewustheid van die belang van lewe, in die oombli
Elke gedig is ‘n ‘indebtedness’, ‘n verwoording van dankbaarheid; jou geheim as digter, vir die idee en woorde van die gedig wat vir jou na vore gekhet.
Digters leef, beleef momente – en gryp die oomblik aan…
Digters skrywe verby hulle eie mistroostgiheid met die alledaagse, op maniere wat ander ook kan
 interesseer
Jy is die tema van jou boek. Jou skryfwerk het jou temas, soos temas van verwonderings, obsessies, bekommernisse, kommentare, perspektiewe…
Elke gedig wys hoe jy kyk na die lewe deur jou lens…
Sit jou bestes eerste
Gedigte is vir elke dag se lees, deur almal – en gee jou met eerste lees ‘n insig, ‘n plesier, ‘n genieting…
‘n Gedig is soos ‘n oogtoetskaart – dis van ver af die letters wat van bo af leesbaar is; dit lei mens in,
 is duidelik, trek jou in, is goed verstaanbaar, aandagtrekkend, en word dan al meer kompleks…
Poësie wys/werk met visie…
‘n LESER WIL IETS SIEN, VERBAAS KYK, SELF INLEEF
Digters leer skryf deur digwerk te lees; digters laat hulle baie selektief beïnvloed

O die pynliggaam

Dit was Totius wat sy pyngedagte in teer woorde 
op skrif gevries het
vir mense om te kan meeleef
hoe die brandpyl van dood jou eensaam maak 
in pyn

Miskien was dit vrees vir hierdie soort eensaamheid 
wat jou behep maak 
met die uitvindsel van jou pynliggaam
die liggaam in jou 
wat agter aandag aan
die een pyn na die ander bedink

‘og, nee, kyk hoe word ek al weer benadeel’
sal jou pynliggaam byvoorbeeld skree
om aandag te trek

‘laat ek jou nog vertel van mense wat my siek maak’
sal jou pynliggaam aangaan as jy nie keer nie
‘miskien moet ek gaan lê en aandag en medisyne kry’
is gewoonlik die beste oplossing 
waarmee jou pynliggaam rus kan vind

o pynliggaam
as jy maar net erns kon maak met Totius
dan sou jy kon leer
hoe eerlik pyn is
en dat die aandag wat jy soek met jou pyn 
ego-aandag is 
en niks meer nie

GERT VDW
==

O Die pyn-gedagte: My kind is dood! . . .
dit brand soos ‘n pyl in my.
Die mense sien daar niks nie van,
en die Here alleen die weet wat ek ly.

Die dae kom en die nagte gaan
die skadu’s word lank en weer kort;
die drywerstem van my werk weerklink,
en ek gaan op my kruisweg voort.

Maar daar skiet aldeur ‘n pyn in my hart,
so, dat my lewe se glans verdwyn;
Jou kind is dood met ‘n vreeslike dood!
En – ek gryp my bors van die pyn.

O Die bliksemgedagte! . . . Ja, lieflingskind,
een straal het jou skone liggaam verskroei,
maar bliksemstrale sonder tal
laat my binneste brand en bloei.

Sy was so teer soos ‘n vlindertjie,
sy’t lugtig omheen geswerf;
‘n asempie wind kon haar vlerkies breek
en – kyk watter dood moes sy sterf!

Hoe weinig die kinders wat so moet sterf,
dis een uit die tienduisend-tal,
en ag, dat dit sy was, en ek moes sien
dat sy dood in my arms val!

O Die pyn-gedagte: My kind is dood! . . .
dit brand soos ‘n pyl in my;
die mense die sien daar niks nie van,
en die Here alleen die weet wat ek ly.

TOTIUS

Stillewe

dis wanneer jy stip deur jou glasvenster kyk
na die groen van ‘n druiweblaar
met warm son om
dat jy die stilte sien, effens uit fokus
tussen al die gedagtes in jou kop deur
selfs as jy nader staan
kan jy jouself die roerlose vrede voorstel
van die hangende blaar aan die druiwerank
stil soos in ‘n stilleweprent,
of ‘n outydse film wat gevries is
die gevriesde film van die blaar is klankloos, windstil
en jy weet jy kan dit ongekend bekyk
opnuut betree,
selfs nalewe
want jy is eintlik een daarmee
een in wese
hierdie is nie jou besef nie
hierdie teenwoordigheid ontwyk jou
arme skepsel,
meegesleur in jou koplewe van gedagtes
stories oor wat jy wil doen, wil hê, moet kry
stories oor hoe kwaad jy is dat ander jou benadeel
egostories wat maal en raas en kom en gaan
miskien moet jy jouself sover kry
om aan die blaar te raak
en in ‘n deelsekonde jou gedagtelewe se film
van wie jy dink jy is
te stop
en vir so lank as jy kan
aan jou eie natuur
in stilte te raak

Skoon afrikanerhuise

[die vreemde vredes van wit-bedien en lewens herverbeel]

Met sagte stemme vertel werkerMammas hulle lang stories
van die steyns die schoemans en die cronjes se huise
die momente van oorskietkos in ou eetgerei
en hoe miesiese hulle besems gegee het en lappe en bediendeklere
om hulle plek te ken

Met skrefiesoë vertel die Mammas
hoe vuil afrikanerhuise kan wees
en hoe mooi die kinders kon uitdraai
uit die skoongemaakte plekke

Met pruil monde vertel die Mammas
dat hulle hier en daar tog iets geleer het
van vuil en skoon
en van afrikaners en van ‘n hele loopbaan as bediende

Met verlangende oë wonder Mammas hoe dit kon wees
om ‘n gelyke lewe te kon gehad het
as beroepsmense met hulle eie werkers

Met plooigesigte vertel twee of drie geslagte
van kromrug Mammas van 80
hoe hulle net die bediendelewe geken het en arm gebly het –
hulle hartseerstories
van trots op hulle eie kinders se uitstyg

Met wonder dink mens hoe Mammas hulle eie lewens kan herverbeel,
en hoeveel afrikanerfamilies se vloere-was en kinders-grootmaak dit vat
vir een Swart Ma om trots terug te kan dink
aan hoe sy haar eie kinders groot gemaak het?

Oogplooie

Soos ek dit verstaan is dit ‘n vaardigheid waarmee mens gebore word:
jy kyk na my met my oogplooie en ek na joune
jy probeer die storie bedink van my plooie
elke vlaklyn elke dieplyn, elke hoekie en buiging
en ek wonder waarna jou kyk nou eintlik kyk

of dalk het ek dit verkeerd, dat ek en jy hierdie kyk leer kyk
deur eers ons eie oogplooie te bestudeer
in al die spieëls wat ons kan kry
om te besluit wat ons weet
van ons eie oogprent se lyne hoeke en dieptes

Miskien kan iemand my nog reghelp
dat stories van oogplooie tussen twee mense
afhang van hulle privaatbesluite
en niks meer as spieëlwaarhede in die oomblik
ontplooi nie

Spore in die toepswêreld

Dis gelukkig dat die tabletskerm vingermerke wys wanneer jy dit afsit
anders sal niemand jou ooit glo hoe jy verdwaal het tussen die toeps
en hoe jy gehuiwer het
tussen die wêreld se ‘favourites’, ‘editors choices’, en ‘staff recommendations’ nie –
enigeen van die eenduisend twee honderd vyf-en-dertig toeps oor skryf byvoorbeeld,
vir wanneer jy jou nuuskierigheid oor wat nuut is nie kan bedwing nie
of wanneer ‘moment diary’ of ‘evernote’ of ‘docs to go’ onvoldoende is

jy is verby die tyd dat prente, lettertipes, fontgroottes, kleur of beweging jou beïnvloed
want jy weet jy kan enigeen kies en op jou ‘cloud’ bêre
so word dit al hoe minder belangrik dat jy rekords hou van jou rondloperhande
wat tussen tik en toeps jou skryfwêreld opmaak
tensy mense oor jou skouer loer en nie mooi volg
hoe jy skryf van die eerste oomblik tot die herskryf, mooi maak
en laat gaan op jou blog nie

dan kan jy spore maak:
saggies druk druk, streep streep, swaai swaai,
af af en af, die hele skerm af, tot onder –
jou hele voetspoor
wat met een skoonvee van die skerm
spoorloos kan verdwyn

Figuurstudent

Hoe sal ek nou hierdie gesig voorstel

het die kunstenaar gedink toe hy aan tafel die vrou oorkant hom sien

 

hy weet hy is die een wie se werk dit is, soos Billy Collins sou gesê het

om aan mense momente soos hierdie voor te stel

as herinnering dat die lewe verbygaan

 

hy begin sy studie van die gesig

met woorde : aangenaam, regtig, ja, wel, bly te kenne

hy doen dit terwyl hy weet sy oomblik van studie duur enkele sekondes

waarna hy dan sal moet probeer onthou

wat in sy moment van kyk was

soos dit ‘n figuurstudent betaam

 

sy studie wil hy in ‘n woordprent sit

met die woorde: lipkrulle, haardos, frons, rooi, en traan

maar hy wonder, as figuurstudent, wat was alles in daardie oomblik

waarvan hy die wereld kan vertel:

‘die gesig in smart’, of ‘halfhartig vriendelik’ of wat?

 

terwyl hy skrywe bring die woordkwas vir hom en die wêreld die moment mee

van die gesig wat rooi is van lipkrul-vreugde

by haar man se begrafnis

Om jou reis te skryf

Om jou reis te skryf

[na aanleiding van Billy Collins se Forgetfulness]

 

Dis die plekke waar die fotos geneem is wat jy eerste vergeet

jy sien jouself voor ‘n kanaal en wil vir almal vertel hoe mooi dit was in Amsterdam

of was dit nou in Utrecht?

Te oordeel aan die bote in die agtergrond, kon dit netsowel Venesië gewees het

of Birmingham of New Orleans waar jy ook voor kanale afgeneem was

maar vir nou kan jy nie eers onthou in watter album die fotos is nie

 

Dieselfde gebeur met die geregte in eetplekke

jy kon sweer die pizza het jy in Napels geëet

die eerste plek in die werld waar pizzas gemaak was

of was dit in die studente-eetplek in Amherst?

 

Terwyl jy gefrustreerd raak oor jou moeite om kanale en eetplekke te onthou

is dit skielik dorpe se name, en die lande waarin jy hulle besoek het

wat nie meer so herkenbaar vir jou is nie

 

Jy begin bekommerd raak wat jy alles van jou reise gaan vergeet

en dat jy die punt gaan bereik wanneer jy die hele lys lande vergeet

vir jou reisblog aan die wêreld

 

Maar dan weet jy die hele idee van ‘n reisblog by nabaat

is in elk geval ‘n verbeelde een:

jy skryf al jou reise oor

soos jy dit opnuut sou wou doen

by ‘n jong oudste se dood

Lank voor almal dit wil hoor word sy lewensstaat per epos aangekondig:

die professor is onverwags oorlede terwyl hy besig was om klaar te maak vir werk

niemand wou dit verwag nie: gister nog aspirerend vol en met sagte oe lewendig;

vanoggend dood

gister nog vol bedagte planne;

vandag weg

weggelaat uit die ruimtes van werk

weg van stoele, tafels, agendas, notules, blompotte

– leeg van die asemstem wat die jong oudste aan die gang gehou het

formeel is hy aangekondig, hierdie keer, meldbaar

as die enigste nie-oorlewende professor wat nog laas werk toe wou kom

hy, die mooi professorman wat besig was om sy oge te bedrup vir die uitsigte van die dag

en toe bly hy lê

dood, stil en gestol, sonder die kans van wederopstanding

met die druppels in sy oe lê hy daar

asem-ophoudend oge-onkykend mond-onpratend lyf-onwillend

verbygegaan weg

oombliksems weg

geval in leegtes van ‘n nuwe onliggaamlike bestaan

hierdie is die man afgeskaal tot liggaam-oorlede

sonder sy hempgedraery brilgekykery mondgepratery en hart-gevoelery nie –

alles is weg: vermis, vermom, gesoek genoteerd

noemenswaardig in die liggaamlike niet

psigologies gesproke

emosies praat

wanneer jy die somerwarm sonnige straat afstap
laat vul jy jou gedagtes met warm woorde
wat jou hart laat opwel
oor hoe jy in liefde en vrede lewe

die aand, in die ys van die nag
laat vul jy jou gedagtes met woorde wat jou die koue laagte
van ‘n bergdal laat beleef: ysig verlate
siel alleen

verbeel jou dan jy word wakker
van ‘n droom wat warm en koud, sielvol sielalleen
meng in kaleidoskoopkleur
wat jy vir die wereld wil wys
as voorbeeld van hoe ‘n dag in jou lewe verloop