die man sit 

die man sit

styf teen die een wat pas haar lippe rooi gemaak 

met sy eie afwagtende mond

die man streel 

die oppervlak van haar een arm

met sy oë blink 

agter sy hande aan

die man tas

met sy rimpelhande op haar elmboë 

om die verleentheid van sy mistastings

te verdoesel

die man steek

sy geheim weg

dat hy eintlik tekens soek

dat dat sy eie lewe voortloop 

ongeag hierdie verblyf 

van sy hande en oë op haar

rooi kolle

wat presies soos syne lyk

Advertisements

dubbelgangers in die dorp

Ewekansig
paradeer die dorp se dubbelgangers
sonder dat hulle van mekaar weet
hulle sweef
drentel
ten volle seker
of on-
en kort sig tig
Op
gewonde
te
vrede vol
lof
waardig
hede
vol
fronse
uit
geVaardig
En
uitdagend
op soek na tweeling-dwalers

hoekom-nie

hoekom-nie
in die dorp sit met jou vreemde haardos en mense toelaat om te wonder hoe jy met jou kop wil maak nie?

hoekom-nie
jou trollie as loopraam gebruik om so meer geld te spaar vir kruideniers nie?

hoekom-nie
die kleintjie van vyf met haar foppie in die mond die dorp vol laat loop om te wys hoeveel moedersmelk sy gemis het nie?

hoekom-nie
in die dorp rondloop met jou hangbaard tot op jou naeltjie wat
die oupa wys wat jy graag wil wees nie?

hoekom-nie
jou agterkopfoto op faceboek vir almal om te wag tot jy jou beste kant voorhou nie?

hoekom-nie
met jou ertjiemaag in die mall rondloop om vir almal te wys hoe jy van babas hou nie?

hoekom-nie
in die dorp presies soos jou suster lyk wat jou vorentoe dalk gaan oortref nie?

hoekom-nie
in die dorp effentjies voor jou seun loop wat homself eintlik as iemand anders voorstel nie?

hoekom-nie
almal in die mall toelaat om jou sagte arms te bekyk sonder dat hulle weet van jou spiere nie?

hoekom-nie
met jou gesig bedroef in die dorp rondloop solank niemand wil weet hoekom nie?

ek is nie op die foto nie

fotoskote neem mense
op
die een na die ander
geneem deur die skieters op mure
wat met hulle oogstukke
strate fynkam
en mense op papier
vas wil suig

skoot op skoot
word mense afgeklik
deur die snellers
die vloede van gladde meganismes wat stroomaf lewensboeie uitgooi
en so die rooi van al die duisend-mensskakerings
al mooi
in die donker
onsigbaar maak

Lippetaal

pare mense seil soos bote
in die lang gange van die mall
en volg die stroom
van neondrade
winkel in winkel uit
tussen al die pare
is daar die oranje strale van onpasmense
die alleenlopers wat stip
hulle stare volg
en soos ongeergdes na vertes loop
neonkleure van pare vleg ineen
wanneer hulle stop
en lippe laat raak
ek eet by jou jy eet by my
of tjekboek deel
of frons bekyk
of traan bedroog
of boud bewys
of smag vermaak
of net hande swaai
wanneer lippe voor almal regtig raak
bots die bote gretig in mekaar
lek die water in elke kolk
loop die stroom albei ver vooruit
dis hoekom dit gebeur
dat malls bestaan sonder botsende bote
dis hoekom malls mense intrek
sodat jy kan jou boot hou
en ekke myne
About these ads

Janneman en sy ma

ek sien die portrette van mense
om tafels in die eetplek
en weet onmiddellik dit is die fotoherinneringe wat in museums
oor vyftig jaar gaan hang:
jannemanne met kort kuifiehare, skaam posture met sy eie bietjies plooie
wat stip kyk na sy klein grys ma’tjie oorkant hom
hy leun oor na haar gevoude arms
kyk na haartjies reg bedeesd
ringe blink gevryf
handsakkie swart gebult
terwyl hy ken op die hand
sy swartraam bril reg druk
en sy hart begin uitpraat
die woorde sal die museumgangers hulleself maar moet verbeel
maar ten minste
sien almal die boetiejan en sy ma
stillewe in een raam
hoe hulle dringende liggame, lippe en gebare toe al gewys het
hoe mans hulle vrouens onderdanig is