Visvang in sandton

ek het nog nooit visgevang in sandton nie

besef ek toe ek met die stroom mense

uit die fontein van die treinstasie

die sonlig instap

 

sekerlik moet daar ‘n rivier wees

of voorheen gewees het

een met groen en stroompies oor klippe en vissies en alles wat jy jou kan verbeel

om jou besige lewe langs die water stop te sit

lyn in die hand

blink vislywe wat spring om te sien wat jy doen

sonder ‘n afstandbeheer of sleutelbord

 

ek vra een van die stokfiguur-treinryers op die roltrap

die een wat lyk soos ‘n oudste wat dalk hier groot geword het

voor die tyd van toringgeboue:

is hier ‘n rivier in sandton?

sy frons maak diep plooie op sy gesig

wat nogal mooi pas by sy strepiespak

jy kan kom kyk na die waterfeature in ons toringgebou, sê hy

dit het riete en visse, en maak sulke meanderdraaie

volgens die letters van ons maatskappy

 

waar sal ek vandag my lyn ingooi hier in sandton

wonder ek toe ek stroom-af loop op die teer rivier

en sien hoe haastig baie mense loop

na hulle vergete viswaters

onderhoud met Eckhart Tolle

soos verbeel deur Gert van der Westhuizen
Eldoraigne

2013 en 14
Dames en Here

Hiermee die transkripsie van ‘n onderhoud met Eckhart Tolle, die Duitsgebore Kanadees, as ek dit reg het, wat droom en geskryf het van ‘n nuwe aarde en die krag van lewe in die hier en nou.

Die onderhoudvoerder is ook die antwoord-opmaker, geinspireer deur Youtube-, CD- en boekvoorstellings van Tolle se idees. Die antwoorde wat hier aangebied word, is verbeelde antwoorde, gebaseer op opsommings en skattings van wat Tolle se idees kan beteken. Die leser wil bes moontlik Tolle se boeke self lees en die gedagtes wat dit meebring, sien vir wat dit is.

VRAAG: Eckhart, jou boeke, jou CD’s en Youtube-aanbiedings gee ‘n voorstelling van jou gedagtes oor lewe in die hier en die nou.  Jy praat van ‘n nuwe aarde, ‘n nuwe wereld wat moontlik gemaak kan word deur mense wat met innerlike vrede lewe. Wat beteken dit? Wat kan Suid Afrikaners daarvan maak?

ANTWOORD: … ek ken Suid Afrikaners nie, net wat ek van hulle gelees het… ek weet van Mandela en die gereelde slegte nuus van menseontevredenheid en menseslagtings in daardie land…

…mense dwarsoor die wereld is in lyding en pyn…… innerlike vrede is die ideaal, maar dit word erg bedreig deur die egoistiese self… die self wat gevul is met gedagtes oor die verlede, gedagtes van onreg waarmee mense so geidentifiseer het dat hulle geen plek vir stil-bewustheid en innerlike vrede het nie…

…die egoistiese self is ook gevul met gedagtes oor die toekoms, van gierigheid om altyd meer en meer goed te wil he>…so erg dat jy innerlike vredes mis…
VRAAG: Hoe bedoel jy innerlike vrede?

ANTWOORD: Innerlike vrede is die essensie van mens se bestaan. Dit is te vinde in die hede, die huidige, die hier en die nou.  Alles wat die mens werklik wil, en moet weet, is in die nou. Dit lyk my Nelson Mandela het dit goed reggekry, en daarom is sy lewe ‘n inspirasie vir so baie.
VRAAG: Almal wil glo dat Mandela in innerlike vrede lewe en bewus is van almal om hom se menslikheid.

ANTWOORD: Ek vermoed hy ken stilte. Stilte soos in ‘stillness’ en nie quietness nie. Stilte bring die gevoel van teenwoordigheid, van lewe in die nou.
VRAAG: Ja, Mandela is ‘n voorbeeld van iemand wat in tronkstiltes geleef het, en almal om hom se gedagtes so beinvloed het tot op die punt dat mense in SA begin praat het van ‘n nuwe wereld, die nuwe SA.

ANTWOORD: … miskien is hy iemand wat gekies het om in vrede te lewe, en om te leef met wat in die oomblik na vore kom. Hy het soos ons almal ook ‘n lewe met gedagtes.  Die probleem met gedagtes is natuurlik dat dit meestal gaan oor die verlede of die toekoms … en dit hou mense so vas dat hulle lewe daardeur oorgeeem word.
VRAAG: Hoe kan mens se gedagtes jou oorneem? Mens kan tog nie lewe sonder gedagtes nie?

ANTWOORD: Gedagtes kom en gaan. Wie was nou weer die filosoof wat gese het ‘I think therefore I am”? Mense lewe baie maklik in hulle koppe. Dan dink hulle: “ek is my gedagtes”. Maar daar is lewe verby gedagtes. 

Gedagtes gaan oor die verlede of die toekoms – hoe dinge was, of kan wees, en mens is nooit tevrede daarmee nie. Dit is altyd ‘n jammerte oor hoe sleg dit was, of ‘n ontevredenheid oor hoe dit kan of behoort te wees. Gedagtes beskryf jy met woorde – woorde is inhoud, dis vorm, en word deur die ego gevul – woorde trek mens in en moedig jou aan om meer te kry, meer verontreg te voel, gieriger te dink aan wat jy nodig het… 

Gedagtes is antwoorde. Die menslike wese, bestaan, bewustheid is nie afhanklik van antwoorde nie, of verstandelike begrip nie. Mens lewe eers, in jou liggaam, en jy het nie daarvoor gedagtes nodig nie. Jou bewustheid van die hier en nou is eerstens gedagteloos. Dis inhoudvry, soos die natuur – daar is geen ding, ‘no-thing’. 

Dan kom gedagtes, gevul deur die kollektiewe verstand, kollektiewe emosie; elke individu word deur die kollektiewe ingetrek, sit die kollektiewe voort – die kollektiewe trek jou in tot op die unt dat jy die kollektiewe jou eie maak…
VRAAG: Almal het so gehoop dat die reenboognasie van SA sou lewe met hoopvolle gedagtes van die toekoms?

ANTWOORD: … daar is die kollektiewe ego… dit word opgemaak deur gedagtes wat ‘n lewe van hulle eie kry, soos die gedagte dat mense kan strewe na ‘n nuwe vredevolle SA. Hierdie gedagtes kom nie uit die sentrum van mense se wese nie, hulle stil-self nie… mense reageer egoisties daarop en begin mekaar konfronteer want wat vir my die nuwe is, is nie dieselfde as vir jou nie. 

‘n Gedagtegevulde lewe is die probleem. Mense wat nie gedagtes kan sien as gedagtes nie, identifiseer so daarmee dat daar geen ruimte is vir die innerlike vrede nie…

Die kollektiewe ego in SA is die probleem, soos in enige ander plek in die wereld.
VRAAG: wat is jou gevoel oor akademici wie se werk dit is om mense in hulle koppe te laat lewe en met hulle gedagtes te laat identifiseer?

ANTWOORD:…koplewe is enkelvoudig lewe…dis egoistiese lewe…terwyl die oorsprong in die liggaamlike is, in die stilte van lewendig wees…
VRAAG: Wat is die ideaal van lewe in stilte?

ANTWOORD: …In stilwees ontek jy die “ek is” wat dieper is as die vormlike, die inhoudelike. Dis die bron van intelligente bewustheid, die ruimte waaruit vorm en inhoud ontstaan…

…dis dieselfde stilheid in die natuur, oomblikke van teenwoordigheid, soos die stiltes tussen woorde, tussen jou in- en uitasem. In stilte kom mens nader aan stilheid – selfs in geraas is daar stilheid wanneer jy bewus word van bewustheid en die ‘realm’ van innerlike vrede, van ‘aliveness’ ervaar…
VRAAG: Ten slotte – wat behels ‘n geestelike reis vir jou? 
ANTWOORD: …leer dat dit moontlik om te kies waaraan jy aandag gee – jou liggaam, jou innerlike wese, jou gedagtes…
…leer lewe met gedagtes en die rusteloosheid van gedagtes – herken gedagtes as afleiding, as dit wat jou wegneem van die nou; as dit wat lyding bring – oefen jou waarneming van gedagtes en jou sin van teenwoordigheid, van jou liggaam, jou lyflike, innerlike teenwoordigheid  in die oomblik van nou. Herken jou eenheid met natuur, met mense, die ‘aliveness’ van jou by/met mense; jou waarneming van mense sonder definisies en interpretasies en ervaar so ‘n sin van eendheid, ‘one-ness’. Dis die essensie van liefde, nie waar nie?

mooi wit afval

mooi wit afval

sien die ivoorknypers in die sand:
die skerpbektangetjies van die natuur
wat knyp om rond te klim
en gevaar openlik te wil byt
stop en kyk van naby
hoe die twee rand-puntige rye tande 
perfek in mekaar pas
wag om te sien hoe die knyper jou kan byt 
met die glinstering en die pe>relwit se mooi
wat nie sal gebeur nie
want die knypermooi tande le> al lank in die sand 
sonder arms

Bestanddele van mooi

Bestanddele van mooi 

Bestanddele van mooi sluit in 
sitplek vir stilwees

le-plek vir liefwees
praatplek vir saamwees
laaiplek vir kragkry
glimlagplek vir vrede
kykplek vir nuuskierigheid
soekplek vir mense ontmoet
bidplek vir stilte
proeplek vir hartekos
en 
vatplek vir verder reis in die donker
  

die mure het nie ore nie

die mure het nie ore nie

die kind kyk met sy oog
bestryk die een muur na die ander
skilderye prente almanakke en ornamente
alles afhangende

te midde van die oog
is daar die oor
wat sy sou kon oop maak
vir verbeelde geluide van muurbehangsels wat stil bewus is
van die rotte wat dorp stig in die plafon
en die vogels wat die reen vier in die boom
namens die budgies wat hulleself vas-getweet het in hulle twitterhok

hoe sy ook al sy
mure het nie ore nie want die luisteraars het hulle eie mure nie
mure het wel oge
maar hulle kyk met starre blikke ander pad

Moltrein vol blinde oë

In die treinmaag belyn mense die wande al swewend

terwyl blink wiele spoorstawe wegskuur

Grotligte skyn van swart mure af

hulle geel ligte op die maagvloer van die trein

Mense sit daarna en kyk en wieg oor hulle belange –

jong maeres wat met skerp en hongerige oë koerante verslind

gryses wat sluimer in mekaar se verbeelde arms

die speeltoneel waar selfs die bifokale brilkykers wat voor sit

nie eers die swart sleepsels sien nie

Manhattan se moltrein, 6 7 06

Kriek se swaarkry

Oorvertelling van die Nederlandse stories uit Toon Tellegen se boekie “De genezing van de Krekel” 2006, Amsterdam Querido’s Uitgeverij. [elfde druk]

[NB aangebied vir inspirasie; kopiereg berus by die skrywer en uitgewer]

Een oggend aan die begin van die somer sit Kriek in die gras voor sy deur en dink: ”Ek is tevrede. Ek is vrolik en tevrede”. Hy leun agteroor en maak sy oë toe en tjirp saggies die liedjie wat hom te binne skiet.

Opeens voel hy iets vreemds in sy kop. Iets wat hy nog nooit gevoel het nie. Iets dofs. Dit sit in sy hele kop.

Die gevoel is stil en maak geen geluid nie.

Kriek is verbaas – hy tik aan sy kop – hallo – maar dit bly stil

Dis ‘n swaar gevoel – Kriek ken dit nie – hy skud sy kop – niks gebeur nie – dit sit vas in sy kop dink hy.

Kriek leun op sy arms – hoe sou hierdie gevoel in sy kop gekom het? Dink hy. Dis ‘n groot, onwrikbare gevoel, dink hy.

Die gevoel begin binne sy kop aan te druk – dit druk van agter teen sy oë.

==

Kriek kyk na die grond – hy was heel ernstig toe mier daar aankom. Ken jy gevoelens vra hy vir mier – ja sê Mier.

Ek het hierdie swaar onwrikbare gevoel sê Kriek – ja, sê Mier – dis ‘n somber gevoel – jy is somber, sê Mier.

Maar ek is vrolik! Nee sê Mier, jy is nie vrolik nie, jy is somber!

Hierdie kan nie wees nie, sê Kriek – Mier sê hy moet loop – dit kan nie wees nie sê Kriek – ja sê Mier, alles kan, elkeen is wel iets.

==

Olifant is op soek na ‘n klein boom. As hy in ‘n klein boom klim, kan hy nie uitval nie.

Woelmuis wys hom ‘n klein boom – met moeite klim olifant in die klein boompie – help skree hy en val darem nie te vêr nie, uit die boom uit.

Bome is ingewikkeld, sê Olifant, ingewikkeld en onoorkombaar

==

Die kriek stap in sy huis heen en weer. Hy dink aan die somber gevoel in sy kop.

Hy gaan sit met sy kop in sy arms. Hy dink na oor somber. Hy weet nie wat dit is nie, wel dat dit erg is. Hy probeer dink waar dit vandaan kom. Kom u van die maan, vra hy. Daar is geen antwoord nie.

Miskien is dit ‘n onsigbare gevoel? Maar dan hoe kan dit so swaar wees? En as ek in my kop kon kyk, lyk dit seker groot en swaar en grou.

Wat is hierdie eintlik, dink Kriek. Wie is ek? Die sombere gevoel gee op daardie oomblik ‘n enorme tree.

Na ‘n tyd kom daar trane in Kriek se oë. Hy voel hoe hy verdrietig word. Hy voel hoe sy kop ‘n groot steen/klip word wat hy moet optel – ek moet dit optel, dink hy. Anders sal dit afrol tot onderaan die helling, en wat daar is weet hy nie.

Die somber gevoel klop teen die kant van sy kop – wil jy uit, vra Kriek – ek het nie beswaar nie – hoe wil jy uit? Hy maak sy oë toe en sien hoe ‘n groot swart massa modder by sy ore uitkom. Toe hy sy oë oopmaak het niks gebeur nie.

Jy is onwrikbaar, dink Kriek. Hy klap teen sy kop. Gaan weg, sê hy.

Die somber gevoel neem niks hiervan ernstig op nie.

==

Die son gaan onder, en Kriek voel moeg. Die somber gevoel sit onwrikbaar in sy kop.

Kriek maak aandete – ‘n pot met soet grasstingels. Kriek dink aan sy gevoel – hy skud sy kop – dankie vir die maaltyd, somber gevoel in my kop. Ek moet nie so praat nie, dink kriek – netnou word die gevoel boos. Somber en boos, dit klink gevaarlik.

Kriek stap na buite en kyk na die sterre – ek wil nie huil nie, dink hy. Laat die somber gevoel huil, maar nie ek nie.

In die huis gaan lê hy op sy bed –  kop onder die kussing – hy is alleen met sy somber gevoel – alles hang van my af, dink hy.

In die middel van die nag hoor Kriek iemand in sy kamer kom. Dis galwurm wat sonder meer vir hom sing en dans. Kriek kruip onder sy bed in en kan nie vir galwurm sê hy is somber nie. Galwurm het mooi gedans, maar kriek het nog nooit so verdrietig gevoel as toe nie.

die man sit

die man sit

styf teen die vrou
weet hy sy is die een
wat pas haar lippe rooi gemaak het en afwagtend tuit

die man streel
die oppervlak van haar een arm
met sy oge blink
agter sy hande aan

die man tas
met sy rimpelhande op haar elmboge
om die verleentheid van sy mistastings
te verdoesel

die man steek
sy geheim weg
dat hy eintlik tekens soek
dat dat sy eie lewe voortloop
ongeag hierdie verblyf
van sy hande en oge op haar
rooi kolle
wat presies soos syne lyk